22/2/2006
Tribeca
New York
Ons neem die stadige lokale trein na die Botaniese tuine in die Bronx. Dis 'n miserabele rit: nerens die suggestie van iemand wat dalk die lotto gaan wen nie. Jy ruik die ellende binne die geslote metro-wa. Na meer as 'n uur beland ons in 'n besige straat in die Bronx en begin ons pad soek na die tuin. Hier vind ons dan ook 'n landskap in die winter gelaat. Die Nolen kweekhuis beskik oor 'n beperkte versameling plante soos bromelias, philodendrons en geraamteplante, sisblomme rank deur die lug, sequoias treur langs die pad..... nog heelwat sneeu, dus kouer hier as in die sentrale deel van die stad? Ons loop lank en ver deur die koue winterpark. Uiteraard is daar niks wat blom nie, slegs orgidee in die kweekhuis: cattleyas, cymbidiums, trosse dendrobiums. Mens voel egter die aankomende lente binne die vol kapsules van magnolias.
Binne die Everett Children's Adventure Garden vind ek 'n moontlike leidraad vir nuwe werk. Hierbinne kan ek veelvuldige konsepte saamsnoer; wonder of dit deels die doel was van die lang, winterbelaaide pad : Rybczynski vir Raymond en die kinderpark vir my.
Gebruik templaat van die kitskamera as raamwerk. Hiervolgens kan die volgende hoofstukke ineenskakel: Springbok poems, seven days in the convent, letters to Malevich, white stick for the Arctic,Yardland ensovoorts. Voel in elk geval vir die eerste maal in 'n lang ruk hoedat die prosesse weer begin eskaleer, begin verbintenisse vorm.
Op pad terug is daar 'n blinde vrou op die trein (sequoias treur langs die pad). Ek probeer onthou wat die kleur van haar trui was.