lien botha
a photographer's geography - lien botha
art reviews biography contact


Deur 'n ander Lens 
Alice in f-stop land

Op 4 Mei 2011 open 'n fotografie uitstalling Lens: fractions of contemporary photography and video in South Africa, by die US Kunsgalery in Stellenbosch. In voorskou hiervan, het die fotograaf Lien Botha eers gaan draai by 'n handvol vroue wat 'n rol gespeel het in die kartering van Suid Afrikaanse fotografie sedert haar samestelling van die uitstalling Photo Works by Women in 1994.
Dit is vroegherfs wanneer ek Mavis Mtandeki weer sien - sewentien jaar na die Photo works by Women uitstalling. Ons sit in die klein leefvertrek van haar huis in Joe Modise straat, Tambo Village op die Kaapse vlakte. Oggendlig filter deur okergeel gordyne waarvan plantmotiewe in wit garing daarop uitgestik is en teen 'n muur hang 'n prent wat jou herinner aan Shangri- La maar ek sukkel om enige detail in die klein foto's op die fotografiese kontakvelle raak te sien. Mavis se dogter Noma Afrika Nicolette bring 'n vergrootglas, en stadig word verskeie fotos wat destyds deel uitgemaak het van die uitstalling weer in fokus gebring: 'n vrou wat starend na regs uit die gesigshoek van die foto beur, die bejaarde egpaar wat sit teen 'n muur van ruitvormige patrone en die stillewe van 'n gassilinder, skinkbord en blikbeker. In die vroŽe negentigerjare het Mavis saam met 'n vriendin, Primrose Talakumeni fotografie klasse begin neem by die Community Arts Project (CAP) in Woodstock, Kaapstad. 'n Digotomiese resultaat het uit hulle gesamentlike dokumentasie ontstaan sodat mens nie altyd seker was na presies wie se werk jy op 'n gegewe moment besig was om te kyk nie met die gevolg van 'n metaforiese dubbel beligting. Die tweetal se coup d'oeil was 'n aansporing vir vroue fotograwe uit 'n voorheen benadeelde stelsel asook 'n fonds vir oorsese kurators met 'n aptyt vir regstellende kunsprojekte uit die ontwakende demokrasie.

In 2011 het die illusie van Utopia plek gemaak vir die Tofflers se Brave new World en 'n fotografiese landskap met 'n opsigtelike generasie foto werkers wat Barthes se Punctum tot op die uiterste beproef, en te lig bevind het. Hiermee saam het die ruimte wat bewerkstellig is tussen film en digitaal 'n ongeŽwenaarde demokratisering van die fotobeeld teweeg gebring.

Uit die oorspronklike groep van veertien fotograwe wat deel was van die Photo Works by Women uitstalling wat in September 1994 by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging (vandag die AVA in Kerkstraat, Kaapstad) gehou is, is ongeveer die helfte vandag nog betrokke by die medium. Karina Turok het in 2007 'n boek gepubliseer met die titel Life and Soul: Portraits of women who move South Africa (Double Storey/David Krut), Riana Vogel bedryf 'n suksesvolle kommersiŽle praktyk, Ruth Motau werk steeds as persfotograaf en Jean Brundrit is Senior Lektor in die Fotografie Afdeling van die Michaelis Kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad.
Brundrit se visier is gemik op kwessies rondom identiteit, seksuele oriŽntasie en geslag, en met tyd het die donkerkamer se tradisionele fotografiese prosesse haar vennoot geword in die manifestasie van foto werke wat inhoudeliks, sowel as prakties, uiting kon gee aan haar voortgesette bevraagtekening van gender veroordeling en die ostrasisme wat daarmee gepaardgaan soos in haar vroŽe werk Portrait of a lesbian couple in South Africa, 1995 of die meer onlangse Out in the archive 1907 van 2006.
Die ooreenkoms tussen die "verdwene" in Brundrit se werk en diť van byvoorbeeld die Amerikaanse fotograaf Cindy Sherman is beduidend, en volgens Brundrit is dit juis grotendeels universele parallele, wat sy meen aan plaaslike fotografie die mate van erkenning en bevryding gegee het wat dit vandag ervaar.
Beide die Amerikaanse fotograaf Stephen Shore en die Nederlander Rineke Dijkstra het reeds hier lesings aangebied om plaaslike studente se vrae oor die onbewoŽ onderwerpe van hul onderskeie vaktaal te beantwoord.
Brundrit meen dat die enkel grootste faktor wat Suid Afrikaanse fotografie sedert 1994 getransformeer het 'n eenvoudige tegniese antwoord is. Die digitale revolusie se pieksellasie met die gevolglike samesmelting van publieke- en private ruimtes in ons tegnologies gedrewe era, en die implikasies daarvan, moet egter wel nog getoets word.

Wanneer Brundrit vertel van 'n onlangse werkswinkel deur die jong fotograaf Daniel Naudť en die wyse waarop hy die kamera as verlenging van sy ligaam vasgehou het, besef jy welke onpartydige opvoeder voor jou sit - met langs haar opgestapel die behelperige konstruksies vir eerstejaar studente se gaatjiekamera projek. Sy vermoed egter dat die tyd hiervoor besig is om uit te loop aangesien die hoŽ kostes van fotografiese papier besig is om die aloue instelling uit te kanselleer.
Iemand kom klop aan die deur en daarmee kom ons gesprek ten einde, ek groet en stap na buite, deur die sandsteen binnehof en verby die repeterende stemme van Aristophanes se Digter en die vrouens terwyl 'n student verwonderd die lig om haar probeer bymekaar in 'n groot kartonboks.

Op die dag wat ek Heidi Erdmann by haar huis in Tamboerskloof ontmoet, lyk die see soos 'n afdruk van die Japannese fotograaf Hiroshi Sugimoto. Die kunshandelaar wat die konsep van 'n toegewyde fotografie galery in Suid Afrika gevestig het, is na sowat veertien jaar steeds staande, ten spyte van 'n reeks chirurgiese ingrepe as gevolg van die nasleep van 'n motor ongeluk in 1993 en 'n uitmergelende resessie wat 'n hele paar galerye laat vou het.
'n Goeie foto gee haar hoendervel maar sy ervaar die industrie as 'n toksiese mynveld van kuns apparatsjik wat die statusfeer van die dag met venyn manipuleer en ondermyn: the good the bad and the ugly.

Erdmann is ruiterlik oor die manipulasie van die voyeuristiese broederskap: "Ek sou dit problematies vind om te erken dat die industrie geslagloos is. Dit het begin as male heavy en dit het so gebly. Internasionale kurators is nouliks geÔnteresseerd in persoonlike kwessies wat grotendeels die terrein van vroue fotograwe blyk te wees en streef steeds eerder die stereotipe na van die eksotiese argetipe wat hul beskouing van die kontinent blyk te wees. Uiteraard sal die behoefte gevoer word deur die verskaffer. Ten spyte hiervan vind alternatiewe beeldmateriaal wel 'n heenkome en is dit veral plaaslike kurators wat 'n meer uitdagende koers vir die konteks van fotografie praktiseer."
Erdmann was saam met mede kurator Jacob Lebeko verantwoordelik vir die uitstalling Construct: beyond the documentary photograph wat gedurende 2009 by Grahamstad en onder andere die Goethe Instituut in Johannesburg te sien was. Vir Ars 11 wat Junie-maand in Finland open, het sy die werk van vroue fotograwe gekies vir haar projek The Living Archive.

'n Vraag oor die versamelwaarde van die medium het 'n lang antwoord wat wissel van die problematiese edisie sisteem van sommige fotograwe tot die halsstarrigheid van sekere korporatiewe kunsadviseurs wat steeds weier om fotografie vir betrokke versamelings aan te skaf. Foto's word wel stelselmatig aangekoop deur 'n groeiende kliek sielsgenote, sowel as progressiewe korporatiewe instansies en publieke versamelings soos byvoorbeeld die Suid Afrikaanse Nasionale Galery, die Johannesburg Kunsgalery en die Nelson Mandela Metropolitaanse Museum. Erdmann verteenwoordig onder andere die werk van JŁrgen Schadeberg, Abrie Fourie, Roger Ballen, Nomusa Makhubu en Lindeka Qampi.
Makhubu se werk bevraagteken kwessies van identiteit en verteenwoordiging binne 'n hersiene koloniale konteks en sy is tans besig om 'n Ph.D.te voltooi in Kunsgeskiedenis en Visuele Studies by die Universiteit van Grahamstad.
Qampi is 'n enkelouer met vier kinders en haar genre is die soort beelde wat kenmerkend geword het van township ikonografie met die verskil dat dit haar woon- en werkplek is en nie net 'n momentele agtergrond vir hoŽ kontras winsbejag nie. Haar aanvanklike betrokkenheid in die medium is jare later verder gekoester deur Iliso Labanto (The Eye of the People), 'n opleidings-inisiatief wat in 2005 deur Alistair Berg tot stand gebring is ter aanmoediging van fotografie in areas soos Khayelitsha. Hier, net soos in die geval van die Market Photo Workshop in Johannesburg, het die veteraan David Goldblatt ook 'n kardinale rol gespeel .

Marilyn Martin, die vorige direkteur van die Iziko Suid Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum is onomwonde oor Goldblatt se empatiese lens. By Pieter Hugo bespeur sy afstand en met die ontgogeldes van Roger Ballen se buitepos kon sy nog nie vrede maak nie. Met Diane Arbus se sirkus wel. Die Time voorblad van Jodi Bieber se portret van 'n verminkte vrou in Afghanistan het sy onderstebo laat lÍ totdat 2 Augustus 2010 se The Case against Summer Vacation die geskende gesig van Bibi Aisha vervang het. Volgens Martin is die lens se eertydse sluiter van verset nou vervang deur kwessies soos korrupsie, MIV vigs en ironies genoeg - weer-eens persvryheid. Ons gesprek draai by waarna sy verwys as 'n "nuwe" etnografie, voortvloeiend uit versamelings soos byvoobeeld die Collection Musťe de l'Homme in Parys - 'n instelling wat self tans 'n restourasie proses ondergaan .

As Marilyn nie leer sweef het nie sou sy waarskynlik vandag heel anders daaruitsien, maar jare se gedissiplineerde transendentale meditasie het by haar die oortuiging tuisgebring van MOMA se vorige direkteur Kurt Varnedoe "It is better to commit the sin of commission than that of omission".

Met 'n nuutgevonde mate van oordrag beweeg sy tussen Dinsdagoggende se klasse by die Alliance Francaise en haar lys kulturele verpligtinge waaronder lesings, resensies, en kuratorskap soos met die onlangse Dak'Art 2010. Martin het in 1999 die komponent Securing Shadows vir die Lines of Sight uitstalling by die Nasionale Kunsmuseum saamgestel waarin sy klem gelÍ het op "die rol van vroue fotograwe as toenemend toonaangewend in hul ondersoek na verskeie estetiese en teoretiese kwessies, sowel in die eksperimentasie met radikaal nuwe tegnieke en metodes van installasie as in die aanbieding wat gevolglik 'n wysiging van idees en persepsies teweeg kan bring oor wat fotografie is en wat dit beteken."

Ten tye van my gesprek met Pam Warne, word daar vir die tweede maal erkenning verleen aan die gravitas van 'n Suid-Afrikaanse fotograaf wat aan die einde van sy lewe 'n ontheemde in Manhatten was. Die tentoonstelling Ernest Cole, Photographer behels die Hasselblad stigting se versameling van foto's wat geskenk is deur die Sweedse organisasie Tio fotografer saam met wie Cole gewerk het toe hy tussen 1969 en 1975 in Stockholm gewoon het.
Elders in die gebou sluip besoekers deur die rekwisiete van Roger Ballen se Boarding House. 'n Klipgooi verder, by die Suid-Afrikaanse Joodse museum is David Goldblatt se Kith, Kin and Khaya aan die beurt. Warne vertel dat sy verbaas was toe die direkteur van die Neuer Berliner Kunsteverein, Dr Alexander Tolnay, tydens die installering van die ZeitgenŲssische Fotokunst Aus SŁdafrika uitstalling, instinktief die oorwegend konseptuele werke van die vroue fotograwe in een saal teenoor die dokumentasie van die mansfotograwe in 'n ander ruimte installeer het. Haar opmerking word bevestig deur Lisa Schmidt, Duitse kunshistorikus, se observasie : "Interestingly all women artists are included in the second room, which shows mostly works which cannot be labeled country wise".
Benewens hierdie uitstalling wat in 2007 vir 'n jaar lank by verskeie kunslokale in Duitsland te sien was en in April 2008 by die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad ten einde geloop het, was daar die afgelope paar jaar 'n aansienlike toename van internasionale tentoonstellings, met die fokus op een of ander aspek van Suid Afrikaanse fotokartering soos byvoorbeeld Snap Judgements: New Positions in Contemporary South African Photography, International Centre for Photography, New York (2006), Darkroom, Altria Group Gallery & Visual Arts Center of Richmond, V.S.A (2010), tans is Figures & Fictions: Contemporary South African Photography by die Victoria en Albert Museum in Londen te sien terwyl Afrika in Junie vanjaar die fokus is van Ars 11 in Finland.
Beide die Bamako Encounters wat sedert 1994 elke twee jaar in Mali plaasvind en die Cape Town Month of Photography wat in 1999 deur Geoff Grundlingh van stapel gestuur is, poog om die eksklusiewe agentskap van besoekende kurators se kwinkslae rondom ons konteks uit te daag, en op eie bodem die sintaksis van die Afrika Kontinent se fotografiese taal te bevorder.

Dit is die oggend van my gesprek met Corlia Harmsen, mede kurator van Lens. Die jong vrou wat in haar eie werk die tema van Heimwee ondersoek, sou moontlik gestalte kon vind tussen die twee wÍreldoorloŽ van BrassaÔ se lens. Sy vertel dat die uitstalling grotendeels ontstaan het uit 'n behoefte om meer studente besoekers na die Universiteit se galery aan te moedig. Dit het haar en Ulrich Wolff genoop om in oorleg met Kathryn Smith, Senior lektor in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Stellenbosch, 'n analoog te vind waarmee praktyk en teorie binne die uitstalruimte oorbrug kan word.
Volgens Harmsen verwys die titel van die uitstalling "na die aard van die lens as 'n optiese instrument wat help om 'n beeld vas te vang sowel as te vorm, wat werke in verskillende media insluit waar die lens as 'n primÍre instrument vir beeldproduksie gebruik word. Die doel van hierdie uitstalling is om `n keuse uit ouer en meer onlangse werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat in die praktyk van die lens gebruik maak, te kombineer. Die werke vertoon nie alleen `n estetiese korrelasie nie, maar ook `n verwantskap ten opsigte van die keuse van onderwerpe. Verder sluit die fokus van die tentoonstelling aan by bepaalde modules wat in Visuele Studies aan die Universiteit van Stellenbosch onderrig word, insluitende die geskiedenis van en diskoers oor die lens en die utopia/distopia van fotografiese en video-kuns in Suid-Afrika."
Op die tafel voor ons lÍ fotostate van 'n seleksie fotos vir die uitstalling: Carla Liesching se swemmers is gestrand as identiteitlose swerwers tussen wÍrelde. Hier is selde skaduwees te bespeur - moontlik omdat jy nie weerkaats wanneer jy ontheemd is nie. Gerhardt Coetzee se Coronation Park, Krugersdorp(2010) is 'n ironiese blik op die mensdom en in hierdie geval die wanhopige siklus van'n afgetakelde ontburgerde Afrikaanse gemeenskap vasgevang in hul eie trombose. Die impuls van Zanele Muholi se geliefdes is 'n ander saak. Vir haar is die kamera klaarblyklik 'n organisme waarmee sy die sensitiwiteit van menslike biologie, en spesifiek die vrou se liggaam, in weerstand tot die politics of difference in Suid Afrika ondersoek. Ons liberale konstitusie in ag genome, is dit ironies dat die minister van Kuns en Kultuur Lulu Xingwana in Augustus 2009 by die uitstalling Innovative Women nie Muholi se werke kon verteer nie en dit verklaar het as "immoral, offensive and going against nation-building". Sy skiet 25 jaar te kort om tot die besef te kom van die Guerilla Girls se gids tot vroulike stereotipes.
Jo Ractliffe se Love's Body belig die openbaring van afwesigheid. Wat haar interesseer is die kortstondigheid van elemente soos begeerte, verlies en verlange met verhouding tot fotografie: wat dit weglaat, die stilte en ruimtes wat dit beset tussen realiteit en begeerte. 'n Onsigbare lyn kan getrek word tussen haar intieme observasie van die toegewikkelde lyk van haar hond Gus (1997) en die foto van 'n bees in On the road to Jamba(2010) wat deel uitmaak van haar Angolese dokumentasie vir As terras do Fim do Mundo (The Lands of the End of the World). Die feit dat Ractliffe 'n werkskennis van ander drukkunsmedia soos litografie het, dra myns insiens by tot die engrafiese invoeling van haar behendige swart en wit afdrukke.

Die eenkleurige karakter van die apteker se spelonk is in kontras met die chromosferiese redigering van Dineo Bopape se video tuin. Mitologie om die natuurlike verskynsel van verduistering, is nie noodwendig die doel van Bopape se the eclipse will not be visible to the naked eye nie. Sinspeling op sig en die gevaar daaraan verbonde dat jy kan blind word deur na 'n sonsverduistering te staar, blyk nie die rolspeler wat met haar rooi rok iewers in Ster Park, Polokwane se buitewyke te voet beweeg, te skeel nie.
Die video installasie, wat wel 'n oŽverblindende kringfilm tot gevolg het, is emblematies van haar werk: 'n reistas se rommelrige inhoud van versamelde dialektiek tussen eksterne- en interne wÍrelde met die resultaat van 'n hortende entropie.
Gelyksoortige breuke in die seleksie van werke vir die Lens tentoonstelling word formalisties teruggeroep tot die jukstaposisie van Svea Josephy se Twin Cities wat in die woorde van die kritikus Brenda Atkinson se teks vir Ractlifffe se End of Time net sowel hier van pas is "Photography occupies a beautifully, maddeningly awkward space between otherness and the real. Between art and documentary journalism". Die ligte in die vertrek waar ons sit, flikker een of twee keer en blus dan, 'n kelner kom ons meedeel dat die tafel bespreek is vir middagete. Corlia het 'n gradeplegtigheid om by te woon en ek - 'n lang pad huis toe met Ernest Cole se kronieke uiteindelik slegs in die tru-spieŽl sigbaar. .

Bronne:
Onderhoude gevoer in Maart 2011 - Mavis Mtandeki, Corlia Harmsen, Pam Warne, Heidi Erdmann, Marilyn Martin en Jean Brundrit
Artthrob, seshee.blogspot.com, www.photograhersgalleryza.co.za, www.michaelstevenson.com, Contempo 02 June /July 2006,
Katalogus: Lines of Sight, 2001, Katalogus: Jo Ractliffe, End of Time, 1999