Lien Botha se uitstalling sluit 'n poëtiese woordteks in: "Imagine our worldÊ..." En dit ’s die verbeelding wat met hierdie uitsonderlike fototentoonstellings uitgedaag word.
Botha se vier tweeluike gee fotobeelde van die stadhuis in Kaapstad, van geskeurde gordyne, die kunswerke en die werknemers, en dit skep 'n sprekende kontras met Mariella Poli se stadhuis in San Francisco.
Poli stel hierdie openbare ruimte voor deur haar fokus op gepoleerde oppervlakke, marmer, borsbeelde en majestueuse argitektoniese ontwerp. Dit word verbeeld as nie 'n neutrale ruimte nie, maar een wat raakgesien word vir die mag wat mense kan onindividualiseer en gelykskakel.
Deur haar keuse van die tweeluik beklemtoon Botha se kunswerke die foto as fragment, as 'n keuse en 'n stolling. Deur die woordteks word 'n beroep op die verbeelding gemaak om die ruimte uit te brei om mense in te dink, hul woorde, om vir die binneruimte 'n buiteruimte te gee, 'n aaneenlopendheid, 'n geskiedenis, soos die geskiedenis van 1990 toe Nelson Mandela voor die stadsaal sy beroemde toespraak gehou het.
Met hierdie fototentoonstelling word die kyker bewus van die fotokuns as dokumentasie, maar ook as die skerpsinnige blik van die twee puik kunstenaars. 'n Mens kan hierna op 'n ander manier sien.
Timothy Zantsi se multimedia-werke Ukuvuka - To arise kombineer afvalmateriaal en optelgoed, koeldrankblikke, draad, lepels, en so meer. Die meeste werke het dieselfde vorm, grootte en paneel-verdeling en slaag veral as kleurryke groeperings. Mense, loslopende hoenders, woonplekke, 'n kerk, 'n kleinhuisie, en so meer word uitgebeeld - dikwels met humoristiese kommentaar op die kunstenaar se omgewing.
Baie van hierdie werke kort egter verdieping; die proses van metaforisering of die gebruik van inheemse patroonkuns kan uitgebrei word.
In sy geheel beskou, beklemtoon hierdie uitstalling kuns as 'n aktiwiteit wat van alledaagse bestaan bewus is. Marcel Duchamp het reeds in die jare sestig beklemtoon dat die woord kuns "maak" beteken (as 'n mens die Sanskrit-oorsprong van die woord aanvaar). Vakmanskap word hierdeur beklemtoon, maar ook die proses van "maak" waaraan nie net die kunstenaars nie, maar ons elkeen daagliks deelneem.