Fotograaf, maar ook kunstenaar en vrydenker. Dis Lien Botha, vanjaar se feeskunstenaar by die tiende Klein Karoo Nasionale Kunstefees.In 1997 is sy op amper soortgelyke manier by die Grahamstadse Kunstefees vereer toe sy daar as die Standard Bank Jong Kunstenaar vir Visuele Kunste aangewys is.
As 'n kunstenaar wie se werk gereeld die verband tussen word en beeld ondersoek, asook tussen die landskap en die menslike ervaring, bied sy vanjaar 'n reeks foto's onder die titel Groot Inkleurboek: Safari. Deur die onskuld en pret van inkleurboeke as vertrekpunt te neem, word die kyker geneem op 'n reis deur nie net die landskappe van Suid-Afrika nie, maar bied die werke ook sleutels tot 'n verhaal van skepping, verandering en ervarings van die Suid-Afrikaanse verlede en werklikhede.
Wat stel jy ten toon, en wat is die idée daaragter?
Safari bestaan uit 16 werke - lyntekeninge wat digital gesuperponeer is op foto's van
die uiteenlopende Suid-Afrikaanse landskap.Daar is ook sowat 1000 inkleurboeke wat 'n herhaling is van die 16 geraamde werke teen die muur. Die inkleurboeke dien as katalogus maar kan ook gebruik word om kinders mee besig te hou.Op 'n teenoorgestelde muur van die lokaal word klein werkies uitgestal, wat dien as kodes tot die groter werke en ook kriptiese inligting aandui soos bv weerpatrone. Die tentoonstelling spruit uit eksperimentele werke wat vroeer vanjaar geskep is.
Watter plekke het jy gekies en waarom? Is daar 'n deurlopende konsep of wys jy bloot die plekke wat jy die afgelope ruk besoek het?
Die landskappe is oor 'n tydperk van sowat 2 jaar versamel op reis na plekke soos
Swartruggens, Victoria-Wes en Springbok. Dit eien die Suid-Afrikaanse landskap met sy verbysterende dualiteit. Dit is grotendeels verlate plekke, gedokumenteer met 'n ou Yashicaflex kamera wat onder meer die gevoel van vervlietendheid beklemtoon. Met die superponering van die lyntekeninge op die foto's word 'n skerp voorgrond geskep as 'n nuwe grens van die ou landskap. Plekke sluit in Loxton in die Noord-Kaap, Goegap in Namakwaland, Swartruggens in die Noord-wes provinsie, Middelpos naby Sutherland en dan min of meer die plek waar Ingrid Jonker die see ingeloop het.
Wat dink jy impliseer jou werk, of waarop reflekteer dit? 'n nuwe Sosiaal-politieke terrein?
Heel moontlik.