Inhoudelik word haar kuns, wat soms 'n sterk surrealistiese inslag toon, heel gepas deur Jamal beskryf as "musiek van stilte". Ondanks die feit dat haar werk gewoonlik fokus op onthutsende kwessies binne die private (soos geestesongesteldheid of die effek van geografiese verplasing) of openbare domein (die Anglo-Boereoorlog, koloniale verledes, ens.), is dit inderdaad stil en po‘tiese uitdrukkings, gehul in 'n opvallende melancholiese stemming.
Daar is dikwels 'n tergende verborgenheid aan Botha se veelvlakkige beelde - soms grens dit selfs aan die esoteriese - maar die groter kwessies waarom dit wentel, is selde obskuur en altyd visueel prikkelend.
Die Taxi-reeks word uitgegee deur David Krut Publishing in samewerking met die Franse Instituut van Suid-Afrika. TaXi-005 is ook geborg deur die Nederlandse Ambassade, die MTN-stigting, Pro-Helvetia, die Switserse Agentskap vir Ontwikkeling en Samewerking, asook die Nasionale Kunsteraad.
Saam met die publikasie, wat in Kaapstad teen R135 te koop is by die Bell-Roberts-kunsgalery, is daar ook 'n opvoedkundige bylae waarin Botha se werk verder bespreek word, dikwels teen die agtergrond van bewegings in die geskiedenis van visuele kuns, asook die werk van ander Suid-Afrikaanse kunstenaars.
Ander kunstenaars wie se werk in die Taxi-reeks belig word, is Jo Ractliffe, Samson Mudzunga, Jeremy Wafer en Santu Mofokeng.
Tentoonstellings deur Ractliffe en Wafer is tans te sien in onderskeidelik die Bell-Roberts-galery (tot Saterdag) en die Sasol-kunsmuseum (tot 24 November) op Stellenbosch.
In die sesde en laaste Taxi-publikasie kom die werk van David Koloane aan die beurt.