Wonderboom
2015

Opsomming

Wonderboom kan beskou word as ’n distopiese roman wat afspeel in ’n post-apokaliptiese tyd binne die Suid-Afrikaanse landskap. Dit is die era van die ontgogelde digitale boorling en alle bronne is skaars. Die gevolg is dat die skeiding tussen ryk en arm meer skreiend is as ooit vantevore en veral in die ‘buiteposte’ gaan dit benouend. Die hoofkarakter, Magriet Vos, is ’n vyftigjarige violis, wie se geheue besig is om die gees te gee. Omdat sy gereeld aan die ‘hof’ van die despotiese maghebber Albino X optree, hou haar toenemende rasionele onvermoë vir haar ’n wesenlike gevaar in, want wanneer sy nie meer daartoe in staat sal wees om vir hom te speel nie, gaan hy haar van kant maak en haar oorskot na die taksidermis stuur om sy diorama aan te vul. In haar kusdorp is daar weinig vriende of familie oor en sy is dus uitgelewer aan migrasie noordwaarts, terug na die Magaliesberg, waar die laaste lede van haar stam woon. Soos die reis vorder en haar syn al meer kwyn, plunder Vos haar verlede en geheue in ’n desperate poging om die post-revolusionêre wasteland te oorleef met die hoop om veilig ‘tuis’ te kom in ’n reisverhaal wat terselfdertyd as ‘uiteenvallende dagboek’ funksioneer. Haar medium, musiek, vorm ’n sintese in die struktuur van die roman om onder andere ritme, toonwaarde en tempo aan die teks te verleen. Terselfdertyd is ’n bewuste poging aangewend om na bestaande skrywers se tekste te verwys, hetsy as ode of parodie. Magriet Vos se reis begin in Bettysbaai aan die suidelike kus van Suid-Afrika en ontplooi deur middel van vier ‘stemme’ of perspektiewe:
- Die hoofverteller (belig die idiosinkratiese blik van Magriet Vos)
- Magriet se dagboek
- Ensiklopedie (eindnote)
- Disintegrerende fototekste: konstruksies/collages wat dien as inleiding tot elke hoofstuk en verwys na die ‘image sequence’ van die Britse fotograaf Eadweard James Muybridge (1830-1904) en wat hier as ontbindende beeldsekwensie toegepas word om teks en beeld te laat swaelstert.

Die boom dien deurgaans as sentrale metafoor − beide as ’n spil in die natuur en as bron van ‘kennis van goed en kwaad.’

10 vrae (en foto’s):Wonderboom deur Lien Botha
Naomi Meyer, LitNet 22.06.2015

In de chaos schuilt de schoonheid: Wonderboom van Lien Botha
Review by Hendrik-Jan de Wit, NeerlandiNet, 2019.06.06

Vertaald proza
Review by  Jooris van Hulle, Mei 2019